Author Archive

“MAN MET BALANS” weer beskikbaar

Braam Hanekom se bekende dagboek Man met Balans is nou in sy vyfde herdruk en weer beskikbaar

Dit is saam met die dagstukkies propvol aanhalings en wenke oor leierskap:

Aantal bladsye 429

Temas wat bespreek word is onder andere :

Om naby God te lewe, roeping, leierskap, geld, werk, pa-wees, oor seer en swaarkry en hoop

Bestel dit van mcmboeke@gmail.com of stuur ‘n sms met jou naam en kontakbesonderhede na 084 512 5136.

Koste R250 (posgeld ingesluit)

 

 

Godsdiens Aktueel: Wanneer ons verwagtinge sterf en weer gebore word

Sekerlik een van die slegste dinge wat ons tans ervaar, is dat al meer mense hul hoop, drome en verwagting vir iets beter verloor het. Dit gebeur op talle vlakke van ons menswees en samelewing. `n Moedeloosheid het mense oorspoel.

Adventstyd in die kerk is die vier Sondae voor Kersfees waarin die woordjie verwagting sentraal staan. Daar word oor tekste uit die Ou en die Nuwe Testament gepreek waarin die verwagting van die koms van die Messias beklemtoon word. Terselfdertyd word daar ook gepreek oor die konkrete implikasies van Sy koms. Hier, nou en in die hiernamaals. Kom ons maak dit konkreet.

Dalk is een van die grootste drome waarmee mense leef en wil leef, die droom dat hulle gelukkig sal wees. Soms kom breek die branders van die lewe egter oor jou, weer en weer, tot so `n mate dat mense intens begin twyfel of innerlike geluk ooit weer `n moontlikheid sal wees.

Advent wil beklemtoon dat Christus en die Gees van Christus ook weer in jou gebore kan word. Dat, soos wat die koms van die Messias die geskiedenis van die wêreld onherroeplik verander het, daar ook in jou `n ommekeer kan plaasvind. Advent wil jou daaraan herinner dat dit inderdaad altyd weer moontlik is om te lag, dat dinge altyd weer beter kan raak en dat daar altyd weer nuwe moontlikhede wag.

Bethlehem dra ook `n baie sterk metaforiese boodskap. Die feit dat Christus in so `n obskure gehuggie en stal gebore is, kom sê vir ons  dat ons drome en ware geluk dalk op vreemde plekke gebore sal word. Onverwagse plekke, eenvoudige plekke. Baie anders as wat ons aanvanklik gedink het.

Maar Advent is nie net `n passiewe viering nie. Dit roep ons op om aktief mee te werk om die drome waaroor gedroom word, waar te maak. Die profeet Jesaja  skep die verwagting van fonteine wat weer sal vloei en die veld wat weer sal blom, blindes wat weer sal sien en dowes wat weer sal hoor, lammers wat sal bokspring en mense wat nie kon praat nie, wat sal sing! Maar dit praat ook van die vrylating van die gevangenes en die bevryding van dié wat onderdruk word. Wanneer Christus begin preek, sê Hy (Luk4) dat Hy hiervoor gekom het. Dit behoort ook ons droom en verwagting te wees.

Dus, wanneer ons Advent en Kersfees vier, moet die vraag gevra word: Hoe vier ons dit? Met Kersfeeskoek, baie kos en drank, geskenke en liggies om kunsmatig iets van die verlore vreugde te probeer herwin? Of vier ons dit met `n aktiewe verwagting wat ons laat moue oprol en mense om ons se drome weer lewend help maak?

My eie ervaring is dat my eie drome weer begin groei het daar waar ek op beskeie maniere kon meewerk om die drome van dié wat dit verloor het, weer lewend te maak.

Dr Hanekom is verbonde aan die Sentrum vir Publieke Getuienis

Godsdiens Aktueel: Restitusie is ten diepste `n geloofsaak

Te midde van `n wêreld  en `n kerk wat kreun onder verdeeldheid, het Die Burger verlede week berig oor `n restitusie konferensie wat in die kasteel in Kaapstad plaasgevind het. Feitlik elke spreker het ‘n mens laat besef dat ons hier te doen het met `n diep en hewige emosionele stroom wat onder die oppervlak van ons samelewing vloei en dan soms, soos met  FeesMustFall, na die oppervlak borrel.

Ek is oortuig dat restitusie, verantwoordelik toegepas, een van die sleutels tot heling in Suid-Afrika is.  Dis egter nie net `n grondkwessie nie, maar ook `n diep geestelike saak. Restitusie sal ook nie versoening bring as dit op mense afgedwing word nie, maar kan `n reuse-impak hê as dit uit `n diep geestelike oortuig sou groei.

Bybelinterpretasie bly ingewikkeld en reglynige afleidings  uit ‘n teks van `n paar duisend jaar gelede, bly gevaarlik. Tog is daar menige Skrifgedeelte wat vir ons beslis ‘n teologiese raamwerk gee wat te lank geïgnoreer is. Vir bevoorregtes soos ek, is dit ongemaklik en kan dit `n mens  met baie onsekerheid laat. Die onsekerheid sal egter nie weggaan deur die saak te ignoreer nie. Veilige ruimtes waar daar beide na die pyn en emosies van ander geluister kan word en met redelike nugterheid oor die konkrete implikasies  en toepassing gedink kan word,  is nou baie nodig.

Reeds die eeste dag van die konferensie het die bydraes van mense soos Aartsbiskop Thabo Makgoba, Thuli Madonsela, Leon Wessels,  Nomfundo Calata (weduwee van Fort Calata, een van die Cradock 4), asook die Khoisan gemeenskap,  my diep laat dink. Dalk help  ‘n paar aanhalings uit die gesprek.

“Restitusie gaan nie oor wiskundige berekeninge nie, maar oor die heling van harte. Die gesprek raak die wortels van ons medemenslikheid.” (Makgoba)
“Ek het gestudeer met die hulp van  weldoeners waarsonder dit nooit moontlik sou wees nie en hier is ek vandag, Thuli Madonsela. `n Nuwe wêreld is op die punt om gebore te word. Is ons gereed om die baba te vang?  Geweld is die taal van die magtelose.” ( Madonsela)
“Ons het gedink dat die WVK ons sou leer om saam te huil en te lag, maar ons het die lesse te gou vergeet.” (Wessels)

Van die vloer was daar ander bydraes soos: “Die Bybel leer ons dat niemand besitters van die grond is nie, maar wel rentmeesters, tot voordeel van ander.”  En: “Hoe is dit moontlik om `n neo-liberale kapitalistiese stelsel in Suid-Afrika te verander  terwyl ons deel is van ‘n globale ekonomie? Moet ons nie `n gesprek open oor ‘n maksimum salaris nie?”

Vrydagaand maak ek gereed om `n lekker vleisie te braai. `n Jong hawelose man klop aan my deur met `n sak hout, vars gekap. “Seblief meneer, seblief koop die by my. Ek het byna flou geword van hongerte terwyl ek dit vanmiddag gekap het…”

Skielik het ek opnuut besef:  hoë mure alleen sal ons nie red nie. Die gesprek is lank nie klaar nie.
Dr Hanekom is verbonde aan die Sentrum vir Publieke Getuienis

Godsdiens Aktueel: Verander God saam met die wêreld?

Braam Hanekom

Die wêreld verander teen `n verbysterende tempo. Terwyl sommige praat van `n “nuwe normaal” praat ander reeds van “post-normale” tye (Sadar 2010). Dit lyk inderdaad of  “die toekoms nie meer is wat dit was nie”!  Dit wil ook voorkom of eras al korter word. Vergelyk byvoorbeeld die landbou-era met die industrialisasie-era, of die informasie-era. Met groeiende digitalisering is die kuns nie meer om inligting te bekom nie, maar hoe om dit te verwerk. Terselfdertyd  raak mense al hoe meer angstig en skop vas teen verandering. Hulle is veranderingsmoeg. Die Instituut vir Toekomsnavorsing van die US Bestuurskool is `n plek waar dié dinge bepraat word. Dit is `n fassinerende plek waar jou gedagtes nie anders kan as om wye draaie te gooi nie.

So sit ek nou die dag daar na Chantel Ilbury (The Mind of a Fox, 2001) en luister. Skielik wonder ek hoe God in hierdie wêreld van versnelde verandering inpas? Verander God saam met die wêreld?  Kom ons begin by die maklike deel.

Ons behoort tog te verstaan dat niks wat ons ooit oor God sê, kan verander aan wie God werklik is nie – tensy jy glo dat God `n blote konstruk van ons menslike denke is (Feuerbach en Freud). As God egter waarlik God is, bly Hy God. Die Bybel maak dit wel duidelik dat ons God se hart kan verander , ook deur ons gebede en dat dit ook dikwels in die geskiedenis gebeur het.  Dit sal ons egter baat om altyd versigtig te praat wanneer ons oor God praat. Die versoeking mag verkeerdelik ontstaan om te dink dat meerdere kennis noodwendig vir ons `n groter greep op God self sal gee.

Volgende jaar is dit presies 500 jaar sedert die Reformasie plaasgevind het. Een van die kernuitsprake van die reformasie was die woorde semper reformanda (altyd reformerend). Wat sou dit beteken?  Ten minste twee dinge. Enersyds behoort die kerk te vernuwe –altyd weer en weer . Terselfdertyd was van die Reformatore bereid  om met hul lewe te betaal, sodat dít herwin kon word, wat hulle gemeen het die  Skrif se bedoeling rondom kernkwessies was. Daar was by die Reformatore  die oortuiging dat jy soms moet terugkyk om vorentoe te kan gaan.  Westerse liniêre denke het sy beperkinge, veral as dit by God kom.

Dit beteken nie dat die kerk nie die wetenskap in `n snel-veranderende wêreld moet omarm nie, maar dit skep terselfdertyd vastigheid in `n wêreld waar mense dikwels op krampagtige en fundamentalistiese wyse begin gryp na “vastighede”. In so `n wêreld weerklink die woorde van Hebreërs 13:8: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.”  Dit laat my met rustigheid, maar ook terselfdertyd met opgewondenheid en entoesiasme deelneem aan `n gesprek oor toekomsnavorsing. Die toekoms is nie iets om te vrees nie. Dit is `n opwindende plek, nog meer so as jy weet dat God daar is.

Dr Hanekom is verbonde aan die Sentrum vir Publieke Getuienis

Godsdiens Aktueel: Die ongemaklike olifant in die kamer

Die ongemaklike olifant in die kamer

Godsdiens Aktueel

Braam Hanekom

Daar is `n olifant in die kamer wat ons keer op keer aan sy teenwoordigheid herinner. So gebeur dit onlangs weer tydens `n byeenkoms wat die Sentrum vir Publieke Getuienis en die In  Harmonie Stigting gereël het. Die onderwerp was eenvoudig: Rassisme, heling en versoening. Met verteenwoordigers van onder andere die Anglikaanse Kerk, die Presbiteriane, Volkskerk, Calvyn Protestantse Kerk, die VGK , NGK, AGS, asook die Worcester Reconciliation Project en die Franschhoek Transformation Charter, is `n interessante gesprek verwag. Ons is nie teleurgestel nie.

Natuurlik is daar mense wat moeg is vir hierdie soort gesprekke. “Dit is tyd om aan te beweeg”, word gesê.  Hieroor verskil mense egter dramaties. Aan die een kant is daar byvoorbeeld jongmense wat weens hul blootstelling aan mekaar sedert 1994 `n radikaal ander ervaring as hul ouers het. Hulle koetser hul nuutgevonde vriendskappe. Terselfdertyd is daar jongmense wie se omstandighede min verander het, en dus steeds kwaad en bitter is en dink dat Nelson Mandela hulle uitverkoop het.

Konsepte soos kompleksiteit, die versugting na eerlikheid en die gebrek aan vertroue, duik telkens in die gesprek op. So ook die term restitusie. Dit is iets waaroor veral witmense nie wil praat nie. Daar is onsekerheid en vrees. Tog bly die vraag hang:  hoe versoen jy nou sonder dat ou onregte reggemaak word? Sommige wil inderdaad net aanbeweeg en ander sê die onreg sal vergroot word as die verlede net vergeet word. Dit het die Afrikaner byna `n eeu geneem om die Engelse vir die konsentrasiekampe te vergewe. Hoe kan ons nou van swartmense na twintig  jaar verwag om sommer net aan te beweeg?

Die aand begin versigtig, maar dan begin dié diverse groep om die tafels praat. Stories van pyn word gedeel. Swart, bruin én wit stories. Meer mense staan op en sê: “Ek het gedink ons is klaar met die gesprekke maar ons sal eenvoudig moet aangaan. Dit is ons roeping en verantwoordelikheid as Christen-gelowiges. Die kerk was te lank stil hieroor. Ons het gedink als is oraait na Madiba. Ons het nog baie werk oor.”

Ons noem hierdie “Waagmoedige Gesprekke” (“Courageous Conversations” ). Na die tyd besef ek opnuut: Al hoef ons dit nie weer so te noem nie is die werk van die Waarheids- en Versoeningskommissie ongelukkig nie klaar nie. Ons mag nie skrik en daarvan wegskram nie. Dit bly goed om na mekaar se stories te luister. Die vraag is nou hoe hierdie gesprekke ook in gemeentes en op voetsoolvlak verder uitgerol kan word?

Maar terug by die olifant in die kamer. Sy naam is “Ongelykheid”. Die ontkenning  van ongelykheid laat ons op `n tydbom sit. Dit voed verwydering. Ons sal eenvoudig meer konstruktiewe gesprekke moet voer en beter oplossings moet vind. Retoriek gaan ons nie help nie. Ons sal ook die werklike redes vir die ongelykheid eerlik in die oë moet kyk. Blote verwyte en beskuldigings gaan niks oplos nie.

Dr Hanekom is verbonde aan die Sentrum vir Publieke Getuienis

Godsdiens Aktueel: ‘n Verkiesing om oor te glimlag

`n Verkiesing om oor te glimlag

Godsdiens Aktueel

Ons plaaslike verkiesings is agter die rug. Verskillende mense sal verskillend oor die verkiesing voel, maar oor een ding moet ons saamstem: dit was nie vervelig nie. Ek was bevoorreg om as deel van die Electoral Code of Conduct Observers Commission (ECCOC) die verkiesing te monitor. Dit staan onder die beskerming van die aartsbiskop Thabo Makgoba en het uitstekende samewerking van die OVK ontvang.

Ons dag het baie vroeg in die verkiesingsentrum hier in Kaapstad begin waar verskillende geloofsgroepe gebede vir die dag laat opgaan het. Daarna is `n verskeidenheid van verkiesingslokale besoek en dis hier waar my hart, soos wat die dag gevorder het, al warmer geklop het.
Praat `n mens oor ongelykheid dan sien jy dit ook duidelik in ons verkiesingslokale geïllustreer. Aan die een kant is daar lokale soos die statige stadsaal in Stellenbosch, met ‘n byna verlate gevoel, en aan die ander kant die dansende kiesers in Khayamandi. By die stadsaal het die meeste kiesers waarskynlik vroeg gestem, want alles wat Stellenbosch vir hul bied het op hierdie vakansiedag , het gewink. In Khayamadi was dit anders. In veelkleurig-getooide stalletjies was die EFF, ANC en DA langs mekaar opgestel, musiek het bulderend oor luidsprekers gespeel en mense het in die strate gedans. Min is huistoe. Dit was hul dag, ongeag die party wat jy ondersteun. Op `n stadium het daar `n onderonsie onder ‘n klompie klein seuntjies uitgebreek. Vinning het `n mamma met ‘n ANC T-hemp en `n stok en `n man met `n DA-hemp en `n sweep onder hulle ingevaar en die span uitmekaar gejaag. Praat van koalisievorming.
Ja, die woonbuurte van Durbanville se stemlokale het baie anders gelyk en gevoel as dié in die informele behuisingsarea van die Kaapse Vlakte en Mbekweni. Op sommige van die plekke het jy feitlik n viertrekvoertuig nog nodig gehad om daar uit te kom. In Durbanville het die kiesers met hul viertrekvoeruie gekom om te stem. Op die Vlakte het mammas nog `n paar sent uit kiesers probeer maak deur gebraaide “Russians” en hoederpote te verkoop. Oral het verveelde polisiemanne rondgestaan. Van die verwagte oproer het daar niks gekom nie.
Ten spyte van die uiteenlopendheid, was iets orals dieselfde. Die deeglikheid van die hoofverkiesingsbeamptes wat hulle taak met ywer uitgevoer het. Partyverteenwoordigers wat oral vriendelik langs mekaar die proses sit en dophou het en dan die mense wat geduldig in toue gestaan en wag het. Bejaardes en gestremdes is gehelp en vorentoe genooi, nêrens het ek iemand oor kla nie, want ons stem is mos nie sommer ‘n nietige ding nie…
Ek kan my byna nie indink dat daar `n tyd in ons land was waar die meeste mense nie kon stem nie. Nou is dit anders. Ja, op plekke was daar seker ongerymdhede. Wat is `n verkiesing dan nou ook sonder klagtes, maar ek het die aand moeg en baie tevrede gaan slaap. Die meerderheid mense in Suid-Afrika het die demokrasie omarm, maar daarmee ook mekaar… en ek het in my geestesoog ons Liewe Vader tevrede sien glimlag.
Dr Hanekom is verbonde aan die Sentrum vir Publieke Getuienis

Godsiens Aktueel: Waar is God dan?

Waar is God dan?
Godsdiens Aktueel
Braam Hanekom

Een van my kollegas vertel nou die dag van die oom by hulle in die gemeente wat graag die volgende uitdrukking gebruik: “Die Here werk verkeerdom reg!”. Ek dink hier lê `n baie diep stukkie teologie in opgesluit…
Ons leef in `n wêreld waarin die sinnelose ons elke dag konfronteer. Jou kop draai vas as jy sien wat in die Midde-Ooste, Europa en die VSA aan die gang is. Tuis voel dit nie veel beter nie en het ons dalk net te gewoond geraak aan dit wat eintlik glad nie behoort te wees nie.
Een vraag wat deur die eeue in sulke tye opgeklink het, is waar God dan in dit alles is? Daar is al feitlik biblioteke vol geskryf oor die vraag na lyding. Om in die bestek van so `n kort rubriek iets daaroor te probeer sê, is eintlik onmoontlik, maar ek gaan dit tog waag.
Job se woorde in Job 42 het my nog altyd gehelp: “So het ek gepraat sonder om te verstaan, dinge te wonderbaar vir my.” In gewone Afrikaans: Daar is dinge, te groot, wat my klein verstandjie gewoon nie sal verstaan nie en ek berus daarby. In alles het ek geleer om eerste na God te soek, voor ek na God se antwoorde soek. Ek het geleer dat die meeste van ons groot vrae en krisisse nie in die oomblik verstaan word nie, maar oor tyd. Ek het geleer dat daar `n onlosmaaklike band tussen lyding en loutering is. In my eie lewe het ek dit al baie nodig gehad. Ek het veral ook geleer dat een van die heel belangrikste wyses waarop God sigbaar word in `n gebroke wêreld, deur die hande en die voete van sy kinders is. Selfs al lyk dinge hóé sinloos, mag ons nie moeg word om goed te doen nie.
As gelowige is dit vir my feitlik onmoontlik om sin in dit alles te vind, sonder my geloof in `n God wat ons leer om met `n ewigheidsperspektief te lewe. Dit laat ons haastige Westerlinge anders dink oor tyd en die raamwerk waarbinne jou krisisse opgelos word. Ek het verder geleer dat God ook nie altyd my gebede beantwoord presies soos ek dit vra nie. In retropspek was ek al dankbaar dat Hy sommige nie beantwoord het nie. Wat ek wel weet, is dat Hy altyd, maar altyd, by my bly en `n bo-menslike vrede kan gee, ook in my krisis.
En nou gaan ons stem. Elke vyf jaar spat ons uit mekaar met `n nasionale verkiesing. Die verskriklikste goed word oor mekaar gesê. Na die verkiesing begin ons weer bou aan nasionale eenheid, net om twee jaar later weer in `n erg verdelende plaaslike verkiesing te beland. Is God hier? Natuurlik is hy hier. Mag ek en jy juis in hierdie dae met ons liefde Hom al hoe meer sigbaar maak (Kol 1:27).
Dr Hanekom is verbonde aan die Sentrum vir Publieke Getuienis

Godsdiens Aktueel: Die virus van verdeeldheid

Die virus van verdeeldheid
Godsdiens Aktueel
Braam Hanekom

Die Britte het verlede week gestem om die EU te verlaat. Ek is egter nie so seker of dit die “uit”-groep is wat gewen het nie. Ek dink die grootste wenner was die virus van verdeeldheid. Ongeag die uitslag, is die Britte na dese `n verdeelde samelewing en al die aanduidings is dat dit na dese toenemend so gaan word. Die verwagting is dat Hillary Clinton die verkiesing in die VSA gaan wen. Tog sal sommige nou al hoe meer begin wonder of Donald Trump nie dalk tog ‘n kans het om te wen nie. Een ding is seker: Ongeag die uitslag, gaan Amerika na die verkiesing meer verdeeld wees as tevore. Ons sien die verdelingslyne ook elders. Ons sien dit in Europa, plaaslik in die ANC en les bes, in die kerk.
Ons het al voorheen verwys na `n beweging van polarisasie en selfs radikalisering. Etikette soos “vir” of “teen”, “in” of “uit”, “oop” of “toe”, word aldag gehoor. Verder lyk dit of die waarheid in die proses al seerder kry. Een van die groot aanklagte teen die referendum in Brittanje, was dat albei kante blykbaar nie altyd die volle waarheid gepraat het nie. Die plek ontbreek, maar twee wesenlike vrae moet gevra word: Wat voed hierdie verdeeldheid en hoe kan dit omgekeer word?
Tans draai daar `n rolprent in teaters met die titel Truth. Dit handel oor die pogings van `n joernalis om klaarblyklike ongerymdhede tydens George W. Bush se jeugjare in die weermag oop te krap. Die rolprent het my diep laat dink. Onder andere oor die kritiese rol wat die media in enige samelewing speel, maar ook die enorme verantwoordelikheid wat die media het om met integriteit die waarheid te bly dien. Die rolprent vra egter nog `n belangrike vraag en dit is of ons eie agendas nie tog ons omgang met die feite en die waarheid meer beïnvloed as wat ons almal wil erken nie. Thomas Kuhn het reeds in 1962 met sy paradigmateorie (The The Structure of Scientific Revolutions) daarop gewys hoe wetenskaplikes in die gat kan trap om net dié feite te erken wat hul eie teorie ondersteun.
Die soeke na die waarheid en verskille sal daar altyd wees en dit is sekerlik nie op sigself sleg nie. Verdeeldheid wat endemies raak, is egter `n ander saak.
Sommige medegelowiges se huiwering om die Belydenis van Belhar te aanvaar bly dus juis om hierdie rede vir my steeds hartseer. Dit is `n belydenis wat handel oor eenheid, geregtigheid en versoening. Meer as ooit tevore glo ek dat die wêreld so `n belydenis nodig het. Die tyd sal leer waarheen ons op pad is. Die Bybel wat ek lees, waarsku van die eerste bladsye af teen verdeeldheid en die verbreking van gemeenskap. Mag ons die genade ontvang om met groter waardigheid te praat en te luister en tog te midde van verskille te bly soek na groter eenheid.

Dr Hanekom is verbonde aan die Sentrum vir Publieke Getuienis

Godsdiens Aktueel Julius Malema Donald Trump en ‘n ongeduldige wêreld

Julius Malema, Donald Trump en `n ongeduldige wêreld
Godsdiens Aktueel
Braam Hanekom

Dit voel vir my of Julius Malema en Donald Trump al meer in gemeen het. Albei  veg `n verkiesingstryd met baie soortgelyke tegnieke. Albei vee hulle af aan konvensies en dit lyk nie of hulle bang is nie. Albei  gebruik graag radikale uitsprake , slagspreuke en eenvoudige stellings wat die kiesers maklik kan verstaan . Albei teiken gefrustreerde kiesers wat  enersyds al meer onseker is oor die toekoms  en andersyds al moeër is vir die status quo. Albei pas ook in in `n patroon van toenemende radikalisering en polarisering wat ons tans regoor die wêreld sien. Vir die gematigde middelgrond is daar al minder plek.