Godsdiens Aktueel: Wanneer ons verwagtinge sterf en weer gebore word

Sekerlik een van die slegste dinge wat ons tans ervaar, is dat al meer mense hul hoop, drome en verwagting vir iets beter verloor het. Dit gebeur op talle vlakke van ons menswees en samelewing. `n Moedeloosheid het mense oorspoel.

Adventstyd in die kerk is die vier Sondae voor Kersfees waarin die woordjie verwagting sentraal staan. Daar word oor tekste uit die Ou en die Nuwe Testament gepreek waarin die verwagting van die koms van die Messias beklemtoon word. Terselfdertyd word daar ook gepreek oor die konkrete implikasies van Sy koms. Hier, nou en in die hiernamaals. Kom ons maak dit konkreet.

Dalk is een van die grootste drome waarmee mense leef en wil leef, die droom dat hulle gelukkig sal wees. Soms kom breek die branders van die lewe egter oor jou, weer en weer, tot so `n mate dat mense intens begin twyfel of innerlike geluk ooit weer `n moontlikheid sal wees.

Advent wil beklemtoon dat Christus en die Gees van Christus ook weer in jou gebore kan word. Dat, soos wat die koms van die Messias die geskiedenis van die wêreld onherroeplik verander het, daar ook in jou `n ommekeer kan plaasvind. Advent wil jou daaraan herinner dat dit inderdaad altyd weer moontlik is om te lag, dat dinge altyd weer beter kan raak en dat daar altyd weer nuwe moontlikhede wag.

Bethlehem dra ook `n baie sterk metaforiese boodskap. Die feit dat Christus in so `n obskure gehuggie en stal gebore is, kom sê vir ons  dat ons drome en ware geluk dalk op vreemde plekke gebore sal word. Onverwagse plekke, eenvoudige plekke. Baie anders as wat ons aanvanklik gedink het.

Maar Advent is nie net `n passiewe viering nie. Dit roep ons op om aktief mee te werk om die drome waaroor gedroom word, waar te maak. Die profeet Jesaja  skep die verwagting van fonteine wat weer sal vloei en die veld wat weer sal blom, blindes wat weer sal sien en dowes wat weer sal hoor, lammers wat sal bokspring en mense wat nie kon praat nie, wat sal sing! Maar dit praat ook van die vrylating van die gevangenes en die bevryding van dié wat onderdruk word. Wanneer Christus begin preek, sê Hy (Luk4) dat Hy hiervoor gekom het. Dit behoort ook ons droom en verwagting te wees.

Dus, wanneer ons Advent en Kersfees vier, moet die vraag gevra word: Hoe vier ons dit? Met Kersfeeskoek, baie kos en drank, geskenke en liggies om kunsmatig iets van die verlore vreugde te probeer herwin? Of vier ons dit met `n aktiewe verwagting wat ons laat moue oprol en mense om ons se drome weer lewend help maak?

My eie ervaring is dat my eie drome weer begin groei het daar waar ek op beskeie maniere kon meewerk om die drome van dié wat dit verloor het, weer lewend te maak.

Dr Hanekom is verbonde aan die Sentrum vir Publieke Getuienis

Trackback from your site.

Leave a comment