Godsdiens Aktueel: Verander God saam met die wêreld?

Braam Hanekom

Die wêreld verander teen `n verbysterende tempo. Terwyl sommige praat van `n “nuwe normaal” praat ander reeds van “post-normale” tye (Sadar 2010). Dit lyk inderdaad of  “die toekoms nie meer is wat dit was nie”!  Dit wil ook voorkom of eras al korter word. Vergelyk byvoorbeeld die landbou-era met die industrialisasie-era, of die informasie-era. Met groeiende digitalisering is die kuns nie meer om inligting te bekom nie, maar hoe om dit te verwerk. Terselfdertyd  raak mense al hoe meer angstig en skop vas teen verandering. Hulle is veranderingsmoeg. Die Instituut vir Toekomsnavorsing van die US Bestuurskool is `n plek waar dié dinge bepraat word. Dit is `n fassinerende plek waar jou gedagtes nie anders kan as om wye draaie te gooi nie.

So sit ek nou die dag daar na Chantel Ilbury (The Mind of a Fox, 2001) en luister. Skielik wonder ek hoe God in hierdie wêreld van versnelde verandering inpas? Verander God saam met die wêreld?  Kom ons begin by die maklike deel.

Ons behoort tog te verstaan dat niks wat ons ooit oor God sê, kan verander aan wie God werklik is nie – tensy jy glo dat God `n blote konstruk van ons menslike denke is (Feuerbach en Freud). As God egter waarlik God is, bly Hy God. Die Bybel maak dit wel duidelik dat ons God se hart kan verander , ook deur ons gebede en dat dit ook dikwels in die geskiedenis gebeur het.  Dit sal ons egter baat om altyd versigtig te praat wanneer ons oor God praat. Die versoeking mag verkeerdelik ontstaan om te dink dat meerdere kennis noodwendig vir ons `n groter greep op God self sal gee.

Volgende jaar is dit presies 500 jaar sedert die Reformasie plaasgevind het. Een van die kernuitsprake van die reformasie was die woorde semper reformanda (altyd reformerend). Wat sou dit beteken?  Ten minste twee dinge. Enersyds behoort die kerk te vernuwe –altyd weer en weer . Terselfdertyd was van die Reformatore bereid  om met hul lewe te betaal, sodat dít herwin kon word, wat hulle gemeen het die  Skrif se bedoeling rondom kernkwessies was. Daar was by die Reformatore  die oortuiging dat jy soms moet terugkyk om vorentoe te kan gaan.  Westerse liniêre denke het sy beperkinge, veral as dit by God kom.

Dit beteken nie dat die kerk nie die wetenskap in `n snel-veranderende wêreld moet omarm nie, maar dit skep terselfdertyd vastigheid in `n wêreld waar mense dikwels op krampagtige en fundamentalistiese wyse begin gryp na “vastighede”. In so `n wêreld weerklink die woorde van Hebreërs 13:8: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.”  Dit laat my met rustigheid, maar ook terselfdertyd met opgewondenheid en entoesiasme deelneem aan `n gesprek oor toekomsnavorsing. Die toekoms is nie iets om te vrees nie. Dit is `n opwindende plek, nog meer so as jy weet dat God daar is.

Dr Hanekom is verbonde aan die Sentrum vir Publieke Getuienis

Trackback from your site.

Leave a comment