Godsdiens Aktueel: Die ongemaklike olifant in die kamer

Die ongemaklike olifant in die kamer

Godsdiens Aktueel

Braam Hanekom

Daar is `n olifant in die kamer wat ons keer op keer aan sy teenwoordigheid herinner. So gebeur dit onlangs weer tydens `n byeenkoms wat die Sentrum vir Publieke Getuienis en die In  Harmonie Stigting gereël het. Die onderwerp was eenvoudig: Rassisme, heling en versoening. Met verteenwoordigers van onder andere die Anglikaanse Kerk, die Presbiteriane, Volkskerk, Calvyn Protestantse Kerk, die VGK , NGK, AGS, asook die Worcester Reconciliation Project en die Franschhoek Transformation Charter, is `n interessante gesprek verwag. Ons is nie teleurgestel nie.

Natuurlik is daar mense wat moeg is vir hierdie soort gesprekke. “Dit is tyd om aan te beweeg”, word gesê.  Hieroor verskil mense egter dramaties. Aan die een kant is daar byvoorbeeld jongmense wat weens hul blootstelling aan mekaar sedert 1994 `n radikaal ander ervaring as hul ouers het. Hulle koetser hul nuutgevonde vriendskappe. Terselfdertyd is daar jongmense wie se omstandighede min verander het, en dus steeds kwaad en bitter is en dink dat Nelson Mandela hulle uitverkoop het.

Konsepte soos kompleksiteit, die versugting na eerlikheid en die gebrek aan vertroue, duik telkens in die gesprek op. So ook die term restitusie. Dit is iets waaroor veral witmense nie wil praat nie. Daar is onsekerheid en vrees. Tog bly die vraag hang:  hoe versoen jy nou sonder dat ou onregte reggemaak word? Sommige wil inderdaad net aanbeweeg en ander sê die onreg sal vergroot word as die verlede net vergeet word. Dit het die Afrikaner byna `n eeu geneem om die Engelse vir die konsentrasiekampe te vergewe. Hoe kan ons nou van swartmense na twintig  jaar verwag om sommer net aan te beweeg?

Die aand begin versigtig, maar dan begin dié diverse groep om die tafels praat. Stories van pyn word gedeel. Swart, bruin én wit stories. Meer mense staan op en sê: “Ek het gedink ons is klaar met die gesprekke maar ons sal eenvoudig moet aangaan. Dit is ons roeping en verantwoordelikheid as Christen-gelowiges. Die kerk was te lank stil hieroor. Ons het gedink als is oraait na Madiba. Ons het nog baie werk oor.”

Ons noem hierdie “Waagmoedige Gesprekke” (“Courageous Conversations” ). Na die tyd besef ek opnuut: Al hoef ons dit nie weer so te noem nie is die werk van die Waarheids- en Versoeningskommissie ongelukkig nie klaar nie. Ons mag nie skrik en daarvan wegskram nie. Dit bly goed om na mekaar se stories te luister. Die vraag is nou hoe hierdie gesprekke ook in gemeentes en op voetsoolvlak verder uitgerol kan word?

Maar terug by die olifant in die kamer. Sy naam is “Ongelykheid”. Die ontkenning  van ongelykheid laat ons op `n tydbom sit. Dit voed verwydering. Ons sal eenvoudig meer konstruktiewe gesprekke moet voer en beter oplossings moet vind. Retoriek gaan ons nie help nie. Ons sal ook die werklike redes vir die ongelykheid eerlik in die oë moet kyk. Blote verwyte en beskuldigings gaan niks oplos nie.

Dr Hanekom is verbonde aan die Sentrum vir Publieke Getuienis

Trackback from your site.

Leave a comment