Godsdiens Aktueel: Hoe heel ons ‘n nasie

Hoe maak ons `n nasie gesond?
Godsdiens Aktueel
Braam Hanekom

Die afgelope tyd het Suid-Afrikaners `n hele paar slegte ervarings gehad. Die skole wat by Vuwani afgebrand is, was maar een daarvan. So stil-stil het daar egter `n ander stukkie statistiek op my tafel beland wat my keel laat toetrek het.
In September 2015 het Netwerk24 berig dat van die nagenoeg 800 000 babas wat in 2014 gebore is, 61%  nie die naam van `n pa op hul geboortesertifikaat het nie. Hierdie kinders is “vaderloos” gebore. Slegs 34% van die ma’s het matriek.

In `n onlangse gesprek oor rassisme en versoening wat die Sentrum vir Publieke Getuienis op die platteland gefasiliteer het, stel `n VGK-suster ferm haar standpunt: “Rassisme is nie ons grootste uitdaging nie, maar wel dwelms, alkoholmisbruik, bendegeweld en afwesige ouers. Ons gemeenskappe is besig om te verkrummel!”

In dieselfde gesprek maak iemand nog `n opmerking wat my net so diep laat dink het:
“ `n Man met `n swak selfbeeld gaan sukkel om `n goeie pa te wees.” (Dit geld natuurlik vir ma’s ook). Is dit vreemd dat ons gesinne sukkel as daar soveel mense is wie se selfbeeld oor soveel jare in ons land op soveel maniere geskaad is?

Ek bly wonder waar dinge vir ons skeefgeloop het? Gewis het dit nie `n enkelvoudige oorsprong en oplossing nie. Waar gaan ons begin om dit reg te maak?

Die eerste is dat ons sal moet erken dat ons `n massiewe probleem het. Dit gaan ook nie vanself regkom nie. Tweedens is ek oortuig dat ons met die simptome sit van wat gebeur as miljoene mense hoop verloor. Hoekom sou ek `n ordentlike, waarde-gedrewe bestaan wou voer as ek meen dat dit my in elk geval niks sal baat nie? Sonder hoop brand jy net soveel makliker `n skool af. Derdens sal ons moet begin verstaan dat nie die kerk of die staat of besigheid hierdie probleme alleen gaan oplos nie. Ook kan dit nie van `n enkele gemeenskap verwag word nie.  Ons sal moet hande vat.

Vierdens: Ek glo dat die kerk se bydrae nie alleen deur sopkombuise en klerebanke mag geskied nie. Die kerk is nie net nog `n nie-regeringsorganisasie nie. Een van die beste bydraes wat die kerk kan maak, is om gesonde plaaslike gemeentes daar te stel, wat die transformerende krag van die evangelie aan mense bied en daarmee saam opnuut ruimtes kan skep waar mense, en veral ons kinders, liefgehê en gekoester word. Dit bring hoop, nuwe moontlikhede en bo alles, `n innerlike motivering. Hoekom is dit so belangrik? Ek raak al hoe sekerder dat innerlike oortuiging en motivering altyd `n sterker krag sal wees as die uiterlike oproep om “die regte ding te doen”.

Ten slotte. Albert Schweitzer het by geleentheid gesê: “Jou voorbeeld is nie die belangrikste ding wat mense beïnvloed nie… dit is die enigste!”  Waar gaan ons hierdie rolmodelle kry? Mag dit by my en jou begin.

Dr Hanekom is verbonde aan die Sentrum vir Publieke Getuienis van die NGK en die VGK

 

Trackback from your site.

Leave a comment