Om te kan sê jy is jammer

Soms wonder ek hoekom dit vir ons so moeilik is om jammer te se. Ja, daardie drie eenvoudige woorde wat dikwels diegene met wie jy in konflik is se venynigste aanvalle laat verdwyn.

Hoekom is dit so moeilik vir ons president om te erken hy het ‘n fout gemaak met Nkandla, minister Nene en `n hele rits ander optredes wat sy morele integriteit by baie vernietig het?

Hoekom was universiteitsowerhede so traag om vir Poekie Briedenhann te sê ons is jammer, ons het `n fout gemaak? Hoekom het die SR dit steeds nie gedoen nie? Hoekom het Open Stellenbosch om verskoning gevra en dit toe weer teruggetrek?

Hoekom het die NG Kerk en ander instellings in Suid-Afrika so lank geneem om jammer te sê oor apartheid? Hoekom is daar steeds mense wat weier om dit te doen?

Die weiering om verskoning te vra vind ons in raadsale, plaaslike regeringslokale, kerkraadsvergaderings, en natuurlik onder skeidsregters.

Hoekom vind huweliksmaats dit so moeilik om in `n oomblik van konflik te sê ek is jammer? Adam en Eva het al daarmee gesukkel en was die eerste meesters in die kuns van blamering van die ander. Hoeveel emosionele energie loop nie in die proses in die spreekwoordelike drein af nie.

Hoekom sê bure, wie se voortbestaan eintlik met mekaar verbind is, so moeilik jammer as daar `n uitval was? Hoekom sukkel ons om teenoor armes te bely dat ons nie genoeg verstaan nie en eintlik meer bekommerd is oor hoe ons ons oorvloed gaan beskerm as oor hulle? Hoekom sukkel ons so om te bely dat ons nie genoeg omgee vir die planeet waarop ons woon nie? Hoekom speel selfhandhawing in die werkplek so `n groot rol?

Is dit dalk omdat ons regtig glo ons is reg en nie verskoning hoef te vra nie? Is dit omdat ons ongelooflik swak na mekaar luister of eintlik nie meer wil luister nie? Of is daar dalk `n eenvoudiger rede?

Tans is die kerk in Lydenstyd. Ek beskryf dit graag as die kerk se wintertyd. Dis `n tyd van stilword, nadink, rus en bid en wag op God se nuwe somer. In Lydenstyd dink ons veral na oor Christus se kruisiging. Daardie een, heilige oomblik waarin hy ook Homself gekruisig het, leeggemaak het, uitgegiet het, tot daar letterlik niks van Homself oor was nie.

Dalk gebeur al bogenoemde met ons omdat die eie self in ons,  keer op keer, soms subtiel en soms openlik, uitbars en opstaan.

Om te kan sê jy is jammer is nie `n teken van swakheid nie. Dit is veel eerder `n teken van innerlike krag en verstaan van wie ons eintlik voor God is.

Voor ons dus weer `n keer iemand kruisig:  mag ons ernstig nadink of daar nie dalk iemand is vir wie ek en jy in hierdie dae hierdie drie groot woorde moet gaan sê nie: Ek is jammer.

Dr Hanekom is verbonde aan die Sentrum vir Publieke Getuienis

Trackback from your site.

Leave a comment