Verlies aan mag is nie noodwendig `n straf nie

Tradisionele magstrukture word tans tot in hul wortels uitgedaag. Dit gebeur in die politiek, die ekonomie, op militêre gebied en in die kerk. Moisés Naím het in 2013 `n uitstekende boek laat verskyn met die titel The End of Power. Daarin wys hy hoe tradisionele konsepte en setels van mag tans regoor die wêreld verander. In die hart van die twintigste eeu se verstaan van mag het Max Weber se analise van moderne burokrasieë gelê. Kortliks: hoe beter jy in hierargieë kon organiseer en so al groter word, hoe sterker het jy geword. Dit het gegeld vir die politiek, korporatiewe maatskappye, magtige konvensionele weermagte en groot denominasies in die kerk. Maar kyk bietjie wat het intussen gebeur.

Tradisionele meerderhede is vervang met minderhede. Eens groot ryke (“empires”) is vervang met tientalle nasiestate. In die eens magtige Britse Ryk sukkel David Cameron om `n meerderheid te kry. Obama maak dit net-net in die VSA. Die vertroue in leierskap regoor die wêreld is die laagste in dekades. Die Pentagon moet nou rekening hou met afstandbeheerde vliegtuigies (“drones”), rekenaarinbrake, bomplanters en `n uitgebreide IS mag, wat eintlik maar in klein weermaggies opgedeel is. In die ekonomie bring Instagram en Uber tradisionele besighede op hul knieë en word daar al meer gepraat van ontwrigtende tegnologie. Kerke weet dat dit nie meer die tradisionele denominasies is wat die vinnigste groei nie, maar `n netwerk van charismatiese kerke, wat eintlik uit `n netwerk van klein onafhanklike kerke bestaan.

Mag word tans ontbondel. Die EU wankel en individualisme of kleiner stamme of groeperings is weer gewild. Dit is asof die ou Bybelse konsep van “jy kan eers sterk wees as jy swak is”, nuwe betekenis kry. Op `n vreemde manier sien ons dit in die letterkunde en rolprentwêreld. Superhelde word vervang met anti-helde, wat eintlik broos magtelose mense is. In die laaste Harry Potter boek gee Harry sy magtigste towerstaf weg. Kyk maar hoe eindig die laaste Batman fliek. Ook in The Matrix moet die karakter Neo eintlik eers sy mag prysgee om die oorwinning te behaal.

Binne die Christelike tradisie was deugde soos broosheid en afhanklikheid, nog altyd baie belangrik.

Richard Foster skryf in sy boek Money Sex and Power, dat die sonde van Eden eintlik `n magsvergrype was. Hulle was nie tevrede nie, hulle wou meer wees en hê. Hulle wou self God wees.

Maar God het `n manier om nooit toe te laat dat daar te veel mag op een plek opgaar nie. Ons sien dit deur die eeue. En God beloof juis seën aan die magtelose en gebrokenes wat in totale afhanklikheid hul oë op Hom rig. Paulus het dit goed verstaan. Jesus Christus se hele lewe het dit openbaar. Mag het egter `n manier om mense blind te maak. Alle politici in Suid-Afrika, ekonome en kerklui, behoort hiervan kennis te neem.  Die tyd sal leer hoe dinge uitspeel. Die geskiedenis leer egter: geen aardse koning regeer vir ewig nie. Christus alleen is die ewige Heer.

Dr Hanekom is verbonde aan die Sentrum vir Publieke Getuienis

Trackback from your site.

Leave a comment