Lesse geleer op die Camino

In Spanje is daar `n  bekende pelgrimsroete, die Camino de Santiago de Compostela, of sommer net die Camino,  soos die duisende stappers dit noem. Volgens oorlewering sou die apostel Jakobus dit gestap het. Hoe waar dit is, weet ons nie. Vandag is daar talle roetes uit verskillende lande wat na Santiago gevolg kan word. Die hoofroete begin by St Johns in Frankryk en eindig ongeveer 700 km verder in Santiago in Spanje. Ek en my vrou het onlangs die voorreg gehad om die laaste 200 km van die roete saam met vriende te stap.

Die Camino gaan letterlik oor skilderagtige berge en dale, vlaktes en groter dorpe, maar ook deur die  allerfraaiste klein dorpies waar dit vir jou voel of jy honderde jare terug in tyd stap. Saans slaap jy saam met mede-pelgrims in die Albergues, waar  saam die pelgrimsete van die dag gedeel kan word. Seer voete raak `n belangrike gesprekspunt. Voete sonder blase en gesondheid, is kosbare artikels op die Camino.

Pelgrimsroetes bestaan reeds vir eeue. Vandag is dit  nie net Christene wat die  Camino stap nie.  Die eindpunt bly egter die groot katedraal in Santiago, waar daar elke dag om twaalf-uur `n diens vir die pelgrims  gehou word.  Duisende woon dit by. Daar is iets besonders aan pelgrim-wees. In die sweet en swaarkry van elke dag se stap word daar wonderlike lesse vir die pelgrimstog van die lewe geleer. Hier volg `n paar lesse wat ek opnuut op die Camino geleer  het:

Een: Baie lag saam met goeie vriende maak enige lang en moeisame  reis korter en makliker. Twee: Die meeste van ons dra hopeloos te veel goed saam! Drie: Almal van ons kry soms onverwagse,  erge pyne langs die  pad. Aanvaar dit as deel van die reis en hanteer dit op `n slim en geduldige manier. Vier: Daar is `n vreemde samehorigheid en gemeenskap wat groei tussen mense, ongeag taal, afkoms, ouderdom, geslag of wat ook al, wat saam swaarkry!  Wanneer die persepsie egter groei dat dit net party is wat swaarkry, groei gevaarlike irritasies wat tot konflik kan lei. Dalk is dit een van die groot probleme met ons eie land.

Vyf: Langs die pad het  `n mede-pelgrim my hierdie wysheid gegee: “As jy die Camino soos `n ou man begin stap, mag jy dit dalk soos `n jong man klaar maak”. Onthou, almal voel goed die eerste dag. Na `n paar dae word die reis lank. Almal het dan soms rusdae nodig, `n Sabbat as jy wil. Daarsonder raak enige reis te lank.

Ses en dalk vir my die belangrikste:  As jy weet wat die eindbestemming van jou lewe is, maak dit die opofferinge en swaarkry veel maklikliker en sinvol. Santiago was `n groot motivering vir ons. Ons wou daar kom.  Tog het ek bly dink aan die woorde van Laurika Rauch se Hotgates: “But there’s another city, so I am told…” Is ons soontoe op pad, of net stappers met groot blase, op pad na nêrens?

Trackback from your site.

Leave a comment